Rasionalisme

Die rasionalisme is 'n filosofiese stroming waarvan die vertrekpunt is dat die rede die enigste of vernaamste bron van kennis is. Die werklikheid het volgens rasionaliste 'n inherente redelike en logiese struktuur wat vanweë hierdie feit ook direk deur die verstand verstaan kan word sonder enige tussenkoms van iets anders as die denke self. Dit is in teenstelling met stelsels wat hoofsaaklik op openbaring of tradisie gebaseer is, of stelsels wat die ervaring aandui as die vernaamste kennisbron (empirisme). Hierdie stroming gedy veral in die 17de eeu in Europa, veral in Frankryk en Duitsland, terwyl die teenpool, die empirisme, veral populêr was in Groot-Brittanje. Die groot name binne die rasionalisme is René Descartes, Baruch Spinoza en Gottfried Leibniz. ‘n Tweede generasie rasionaliste sluit in Arnold Geulincx, Nicolas Malebranche en Christian Wolff.

Naas die filosofiese rasionalisme is daar ook 'n religieuse of godsdienstige rasionalisme wat die geloofswaarhede wil (laat) verantwoord via die persoonlik denke. Ook die Middeleeuse leer van die fides quaerens intellectum (die geloof wat na die rede soek) word binne die religieuse domein wel as rasionalisme beskou.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search